Kakamas-leerders spog wéér met wenproduksie by Hoërskool Dramafees in Kaapstad

Persverklaring: 23 Augustus 2022

Vir onmiddellike vrystelling

Kakamas-leerders spog wéér met wenproduksie by Hoërskool Dramafees in Kaapstad

Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas het vanjaar weer met die louere vir die beste tienertoneelproduksie weggestap by die Hoërskool Dramafees in Kaapstad. Dié fees is ’n jaarlikse instelling en word deur Kunstekaap en die Suidoosterfees aangebied. Agt skole het van 18 tot 20 Augustus aan die finale ronde van die feeskompetisie deelgeneem.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat leerders van Kakamas se produksie as die beste op die fees aangewys is. Vanjaar is Hoërskool Martin Oosthuizen se Skaakmat die wenner, en verlede jaar het hul toneelstuk Neer daal die reën ook dié gesogte toekenning ingepalm. Skaakmat het ook die prys vir beste teks ontvang. Die produksie sal volgende jaar ingesluit word op in die Suidoosterfees se NATi Jeugteater-program.

Skole van Worcester het die beste akteur en beste aktrise tydens die fees opgelewer. Olwam Cona van Vusisizwe Sekondêre Skool en Jadha Abrahams van die Pionierskool vir Gesiggestremdes is onderskeidelik as beste akteur en beste aktrise aangewys. Dié skole het ook in ander kategorieë presteer: Vuyani Jantjies van Vusisizwe Sekondêr is as beste regisseur aangewys vir die produksie Survival of the Fittest, en die Pionierskool het die beoordelaarstoekening vir beste ensemble-spel vir Talentaand ontvang.

Ander skole en tienertoneelgroepe wat sake by die Dramafees uitgespook het, is Bernadino Heights van Scottsdene, Harry Gwala Sekondêre Skool en die Ikhwezi Teatergroep van Khayelitsha, Immaculata Hoërskool in Wynberg en Hoërskool Langa.

Marlene le Roux, Kunstekaap se uitvoerende hoof, het gesê sy is trots op die deelnemers se prestasies. Die Pionierskool vir Gesiggestremdes lê haar spesifiek na aan die hart. “Artscape beywer hom om ’n tuiste te bied vir mense met gestremdhede. Nie net vir gehoorlede nie, maar ook vir deelnemers. Watter wonderlike ervaring om hierdie skool se produksie as deel van die fees te kon hê.”

Die Suidoosterfees-direksievoorsitter, prof. Brian Figaji, was beïndruk met die gehalte van inskrywings. “Buiten die uiteenlopende temas wat gedek is, was die toneelspel uit die boonste rakke. Ook die tegniese versorging van die stukke was puik,” het hy gesê.

Foto-onderskrifte:

[1 Wenners van die HS Dramafees]: Die geselskap van Hoërskool Martin Oosthuizen het met Skaakmat vir die beste tienertoneelproduksie by die Hoërskool Dramafees gesorg.

[2 Skaakmat]: ’n Toneel uit die wenproduksie, Skaakmat.

[3 Pionierskool]: Die Pionierskool vir Gesiggestremdes in Worcester het pryse in twee katergorieë tydens Kunstekaap en die Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees losgeslaan.