Artscape en Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees is hier!

Persverklaring: 17 Junie 2022

Vir onmiddellike vrystelling

Artscape en Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees is hier!

Agt skole neem van 18 tot 20 Augustus deel aan Artscape en die Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees wat in Kaapstad aangebied word. Die volgende skole en tienerteatergroepe ding mee om pryse wat vir toneelproduksies op die spel is: Bernadino Heights, Scottsdene; Harry Gwala Sekondêre Skool, Khayelitsha; Ikhwezi Teatergroep, Khayelitsha; Immaculata Hoërskool, Wynberg; Langa Hoërskool; Martin Oosthuizen Hoër, Kakamas; die Pionierskool vir Gesiggestremdes en die Vusisizwe Sekondêre Skool, albei van Worcester.

Die jong teatermakers bied toneelstukke aan wat spreek tot kwessies waarmee tieners van vandag worstel. Dit sluit aan by die Hoërskool Dramafees se oogmerk om belangrike sake op ’n kreatiewe manier onder die soeklig te plaas. Ewe waardevol is dat dit binne die opset van ’n professionele teateromgewing in Kunstekaap gebeur.

Leerders van verskeie skole in Khayelitsha word deur die Ikhwezi Teatergroep onder hande geneem om jong akteurs en regisseurs se vaardighede te slyp. Vanjaar neem die geselskap deel met die stuk Imbiza (Die pot), wat handel oor Viwe, ’n seun wat deur ’n enkelma grootgemaak is en op soek is na sy vader. Harry Gwala Sekondêre Skool, ook van Khayelitsha, se Isithokothoko (Alle lewens maak saak) ondersoek geweld en diskriminasie wat deur gestremde persone in die samelewing verduur word.

Vusisizwe Sekondêre Skool van Worcester se toneelstuk, Survival of the Fittest, handel oor ’n tradisionele hoofman wat sy leierskap moet neerlê, en die konflik wat gevolglik tussen sy kinders ontstaan oor wie hom moet opvolg. Ook uit Worcester, is die Pionierskool vir Gesiggestremdes op die program met hul produksie Talentaand. In dié stuk staan ’n blinde skooldogter, Tamara, se oorbeskermende moeder in die pad van die kind se droom om aan ’n talentkompetisie deel te neem. Uilstraat 13 van Bernadino Heights-hoërskool in Scottsdene het ook ’n blinde dogter as hoofkarakter, met die buitengewone gawe om dinge te “sien” wat gewone sterflinge nie beskore is nie.

Depressie onder tieners is die onderwerp van Hoërskool Langa se inskrywing vir die fees, The Sorrow of Being a Teenager. Die gevolge van enkelouerskap, armoede en groepsdruk op die gemoed van jongmense word onder die vergrootglas geplaas. Die gewigtige onderwerp van selfdood onder tieners kom aan bod in Stand Up! Speak Out!, Immaculata-meisieskool van Wynberg se inskrywing vir die Hoërskool Dramafees.

Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas, wat in 2021 vir die fees se wenproduksie Neer daal die reën verantwoordelik was, is vanjaar terug met Skaakmat. Dié stuk handel oor die verwoesting wat oorloë in die wêreld meebring.

Die Dramafees sluit op 20 Augustus af met ’n prysuitdeling waar die beste akteurs, skrywer en regisseur aangewys sal word. Die wenproduksie se geselskap sal ook uitgenooi word om hul toneelstuk tydens 2023 se Suidoosterfees op die planke te bring.

Kaartjies vir die Hoërskool Dramafeesis teen R50 by Computicket beskikbaar.

Foto-onderskrif:

Hoërskool Martin Oosthuizen, wat in 2021 as die Hoërskool Dramafees se wenners aangewys is, is vanjaar terug op die planke met Skaakmat.