Vyf honderd paar ogies is op die verhoog gerig. Die oortjies is gespits, die handjies klap opgewonde saam en die boudjies hop op en af op die stoele, want die opwinding is te groot… Dis weer tyd vir Vlooi en sy vriende!
Elke Augustus is spesiaal as Vlooi en sy maats kinders van regoor die Wes-Kaap (plekke tot sover as Saldanha, Swellendam en Bredasdorp) by die Kunstekaap Teater vermaak. Vanjaar is ekstra spesiaal, want Vlooi vier sy 20ste jaar op die verhoog. Boonop moes ons die verjaarsdagviering al twee keer uitstel as gevolg van Covid, en ons het ons borrelende gehoorlede SO baie gemis!
Onder die knap hande van regisseur Marinda Engelbrecht en teksskrywer Margit Meyer-Rödenbeck word die Storieboomreeks vir die verhoog verlewendig. Aangesien Vlooi talle skole se voorgeskrewe leesreeks is, is dit werklik ‘n wonderlike ervaring vir die grondslagfase om die karakters in lewende lywe te aanskou. Jaarliks kom kyk ongeveer 20 000 kinders tussen die ouderdomme van vyf en tien jaar na nog ‘n avontuur van Vlooi. Twintig jaar gelede was Vlooi maan toe, en daarna het hy die seerowers oorwin, die rommelkoningin en die reus reggesien, die Ysman van aardverwarming gered, op die reënboog gegly en die Koninginby gered.
Die Vlooi Produksies, wat ook al vereer is met ‘n Fleur du Cap toekenning, het oor die afgelope twintig jaar talle bekende akteurs in die geselskap gehad, soos Susanne Beyers, Joanie Combrinck, Pedro Kruger, Cintaine Schutte, De Klerk Oelofse, June van Merch, Leon Kruger, Deon Lotz, Carel Nel, Liande Valentyn, Crystal Donna Roberts, Esther von Waltsleben, Dean Balie, Marlo Minnaar, Kyle Seconna, Nicole Holm, Martelize Kolver, Ivan Abrahams ens.
Vanjaar se geselskap is ewe indrukwekkend met Elanza Swart, wat vir die 7de jaar die rol van Vlooi vertolk, Francois Toerien, Karli Heine, Lynelle Kenned, Robert Hindley en Eldon van der Merwe. Coenraad Rall behartig die musiekregie en Elana Snyman die stel en kostuums.
Op watter avontuur neem die towersleutel ons in “Vlooi en die Geheim”? Om nou die storie te verklap, sal seker die geheim weggee… Maar wat ons wel weet is dat Vlooi, Biebie en Wim julle hulp gaan nodig hê, want Koning Herwin het beheer verloor oor sy koningkryk en Prinses Dauphine het geheimsinnig verdwyn.
Vlooi en die Geheim begin 15 Augustus by die Kunstekaap teater. Daar is elke dag 2 vertonings om 09:30 en 11:00 onderskeidelik. Die datums van die Afrikaanse vertonings is: 15 – 19 Augustus; 29 Augustus – 2 September, en 5 September. Die Engelse produksie, Kipper and the Secret, word aangebied van 22 – 26 Augustus, en van 6 – 8 September. Die prys van kaartjies vir blokbesprekings van 10 en meer is R60 per persoon, en enkelkaartjies kos R80 elk. Vir enige navrae of besprekings, kontak Louise by marinda.vlooi@gmail.com
Vlooi en die Geheim word aangebied in samewerking met Kunstekaap en Oxford University Press.