Kunstekaap ’n plek vir almal – begin reeds vroeg

Afrika word beskou as die vasteland met die jongste bevolking ter wêreld. In Suid-Afrika, met ongeveer 12 miljoen kinders van skoolgaande ouderdom, is die holistiese welstand van ons jeug noodsaaklik. Daarom bly Kunstekaap verbind tot die vorming van die toekomstige generasie deur die transformerende krag van teater en die uitvoerende kunste deur middel van ’n weldeurdagte Opvoedkundige en Jeugprogram.

Kunstekaap se program vir 2026 was onlangs in die kollig tydens ’n vergadering tussen skoolverrykingsbeamptes van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) uit beide stedelike  en landelike gebiede, en van Kunstekaap se senior projekbestuurders.

Daar is veral gefokus op vanjaar se reeks voorgeskrewe werke wat tussen April en Augustus opgevoer sal word. Oor Adam Small se Krismis van Map Jacobs, sê vervaardiger Andre Samuels: “Hoewel die toneelstuk op die 1970’s fokus, word vandag se jeug gekonfronteer met presies dieselfde probleme van armoede en bendelewe. Maar wat hulle in hierdie stuk kan sien en waarmee hulle kan identifiseer, is die keuses wat die karakters maak en die verantwoordelikheid wat hulle neem.”

Sis Thoko Ntshinga, bekende aktrise en vervaardiger, beklemtoon só die relevansie van WK Tamsanqa se isiXhosa-toneelstuk Buzani Kubawo (1958) oor liefde, familieverhoudings en konflikte wat ontstaan wanneer tradisionele verwagtinge bots met veranderende waardes: “Nie net kan Xhosa-sprekende leerlinge in Graad 11- en 12 hul eie huistaal hoor nie, maar hulle leer ook eerstehands hoe gevaarlik dit kan wees wanneer onverklaarbare kulturele tradisies nie by vandag se omstandighede aangepas word nie.”

In dieselfde trant gesels Fred Abrahamse, ’n veteraan van die teaterwêreld, passievol oor die klassieke werke. “Hamlet,in die besonder,” sê hy, “handel oor kenmerkende menslike emosies. Al is sy stories 400 jaar oud, kan Shakespeare in enige tydsbestek, in enige omgewing in die wêreld, geïnterpreteer word. Ek het gesien hoe jong gehoorlede met daardie passies vereenselwig.”

Op die musiekfront is die Youth Jazz-reeks wat op 12 en 13 Junie plaasvind ’n groot gunsteling onder vele jongmense met musiek in hul DNS, “Veral diegene wat nie musiek as ’n skoolvak het nie. Ons is hier baie trots op ons uitstekende vennootskap met die Universiteit van Kaapstad se jazz-departement onderleiding van prof. Amanda Tiffin wat die mentorskappe met verskillende jazz-spesialiste vir ons deelnemers fasiliteer,” sê Marlene le Roux, Kunstekaap se uitvoerende hoof. 

“ ’n Verdere hoogtepunt vir die jeug is die uiters suksesvolle Klassieke Jeugkonsert wat in September aangebied word, en  dié wie se voete jeuk vir ’n goeie dosis klassieke dans sal ook nie teleurgestel word nie.”, sê sy.

Rowan Esau, ’n skoolverrykingsbeampte van die WKOD wat eersdaags aftree, onderstreep die langtermyn-impak van hierdie program en onthou sy tyd as laerskoolonderwyser toe sy leerlinge genooi is deur Kunstekaap se uitvoerende hoof, dr. le Roux, wat destyds aan die stuur was van die progressiewe gehoorontwikkeling- en onderwysprogram, die voorloper van die hedendaagse opvoedkundige en jeugprogram. “Ons was genooi om West Side Story op te voer op seker die grootste verhoog in die Wes-Kaap, in ’n tyd toe baie van die ouers nie eers geweet het waar Artscape – die ou Nico Malan – was nie juis omdat hulle gedurende die apartheidsjare nooit toegelaat was nie!” Hy het almal teenwoordig daaraan herinner dat die nou gewilde TV-akteur Duane Williams sy debuut in daardie produksie gemaak het!

Vir Le Roux is haar visie om jongmense aan te moedig om die kunste as hul toekoms te sien nou selfs sterker as toe. Met die gebou wat haar 55ste bestaansjaar in Mei vier, is sy trots op die duisende jongmense en skoolkinders wat die kompleks deur die afgelope jaar besoek het.

Sy sien uit na die uitersgewilde jaarlikse Hoërskool Dramafees – oudisies vind plaas in Mei met die eindronde in Augustus – wat beide leerlinge en ouers in groot getalle lok.  “Ons werk nóú saam met die WKOD om hierdie opvoedkundige program vir skole suksesvol te maak. In die besonder werk ons goed saam met die musiekkurrikulumadiviseur en hoof van musiek in die Wes-Kaap, asook met musiekkurrikulumspesialis KeithTabisher vir die skooljeugorkeste,,” beklemtoon sy.

Dis egter veral Kuntstekaap se Loopbaandag op 6 Junie wat haar vreeslik opgewonde maak, sê Le Roux “Dít is wanneer ons die aktiwiteite agter die skerms by Artscape blootstel; ons maak hierdie vlagskip van die uitvoerende kunste oop vir alle jongmense. Ons kan tot op 1500 Graad 11- en 12- leerlinge huisves sodat hulle self die loopbaanmoontlikhede in beligting, klank, produksie, kostuumontwerp kan ervaar – die opsies is onbeperk. Die kunste gaan nie net daaroor om op die verhoog te wees nie. Dit is nou werklik ’n plek vir almal,” sê Le Roux.

Teken aan in jou dagboek:

Voorgeskrewe werke:

  • Krismis van Map Jacobs: 09-24 April
  • Buzani Kubawo: 13-02 Mei
  • My Children My Africa: 22Julie-4 Augustus
  • Hamlet: 12-15 Augustus

Jeugprogram

  • Loopbaandag: 6 Junie
  • Proscenium-dramakompetisie: 6-9 Mei
  • Youth Jazz-reeks: 12 Junie – solo’s; 13 Junie – skoolorkeste
  • Kunstefees vir skole: 12-28 Augustus
  • Hoërskool Dramafees: 17-21 Augustus