‘n Woord van dank deur Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Artscape.
Dankie Die Burger…dankie die lesers van Die Burger. En dankie aan die hele span wat by Artscape werk. Hierdie eer om weereens deur lesers van Die Burger as “teater van keuse” aangewys te word, en die en gesogte goue toekenning te ontvang, behoort letterlik aan ieder en ‘n elk wie bydra tot die sukses van Kunstekaap. Vanaf sekuriteitswagte tot skoonmakers tot inleiers moet elkeen hul rol speel om die teaterervaring volmaak te maak. Eers dan, kom dié wat op die verhoog aangebied word, in aanmerking. En soos die opvoering aangaan, moet elk van ons kundige tegnici hul rol speel om seker te maak alles loop glad agter die skerms. Dit moet en kan net suksesvol wees as dit soos die spreekwoordelike goed-geoliede masjien werk.
Dit gesê, niks sal ooit werk as ons nie die publiek het wat ons so onophoudelik ondersteun nie. Dit verg 100% toewyding om teatergangers se ondervinding plesierig en volledig te hou. En, om weer hierdie eer te ontvang getuig dat ons iets reg doen. Maar, soos ek altyd vir my personeel sê, nou is nie die tyd om op ons louere te rus nie. Nou moet ons nog hoër mik, want die somer seisoen van nuwe skeppings wag om te onthul word op ‘n Artscape verhoog.
Gepraat van, ons rooi tapyt by Artscape is nie vir BBP’s (baie belangrike persone) nie. Almal is ‘n BBP by Artscape. Kyk maar na die ±60 000 mense wie Chicago kom kyk het. Volgende is daar so baie op die almanak by Artscape soos ons voorberei vir somer…met ‘n spyskaart wat skrik vir niks: van Kaapse Maleier Kore tot Charlie Chaplin se lewe in ‘n een-man vertoning, en van die gewilde ballet Coppelia tot die skitterende musiekblyspel, Cats en dan ook is daar ons jaarlikse Boogie makietie – waar ons die disko-ligte en kragballades van die 70s en 80s herleef. En daar is soveel meer. Ek wens ek kan hulle almal noem…en sommer al die ape uit die mou laat. Lees gerus meer op ons webwerf.
Ons moet vir eers net vir ‘n oomblik asemhaal en die grootste, opregste DANKIE sê vir die goue toekenning en die konstante ondersteuning van almal waarsonder, kom ons wees eerlik, nie een van ons by Artscape ‘n werk sou hê nie. Dankie so, so baie!!!