PERSVERKLARING: VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING
26 JUNIE 2026
__________________________________________________________________________
Gedenkkonsert vir Abdullah Ibrahim in Suid-Afrika
Kaapstad se musiekgemeenskap gaan ons geliefde ikoon, digter, komponis, pianis, vegskunstenaar en filosoof, Abdullah Ibrahim wat op 15 Junie 2026 oorlede is, vereer in die Kunstekaap Operahuis op Maandag 29 Junie. Vriende, familie en jarelange vennote van die legendariese musikant het bymekaargekom om hierdie spesiale gedenkkonsert te reël wat gekenmerk en gelei word deur musikante.
Kaartjies vir die gedenkkonsert is reeds uitverkoop, maar almal kan die geleentheid regstreeks volg by die volgende skakel:
Die program is spesiaal saamgestel om musikale bekwaamheid te weerspieël en sal verskeie kunstenaars insluit wat hulde sal bring aan Ibrahim deur sy verskeie komposisies. Die geleentheid sal ook argiefbeelde, beeldmateriaal en poësie van AI (soos hy liefdevol genoem is) insluit.
Musikante op die program sluit in Hilton Schilder (klavier), Mark Fransman (klavier), Blake Hellaby (klavier), Kirsten Skippers (klavier), Ramon Alexander (klavier), Nicolas Miso (sang), Danel Murcott (fluit), Buddy Wells (tenoorsaksofoon), Shaun Johannes (kontrabas), Dylan Tabisher (elektriese bas), Duncan Johnson (tenoorsaksofoon/leier van die blaserafdeling), Don Vino Prins (altsaksofoon), Annemie Nel (tromme), Kevin Gibson (tromme), Joshua Nemaire (kontrabas), Clayton Pretorius (bas) en Bradley Prince (kitaar).
Hierdie kunstenaars sal Ibrahim vier deur van sy mees ikoniese komposisies uit te voer, insluitend “Mannenberg”, “The Wedding” en “Water from an Ancient Well”. Die geleentheid is deur verskeie onafhanklike gemeenskapslede en musikante byeengebring en is vervaardig deur Marlene le Roux, Aki Khan, Sevi Spanoudi, Ramon Alexander en Basil Appollis.
Ibrahim is op 22 Junie volgens Moslem-begrafnisgebruike ter ruste gelê in Beiere, Duitsland, sy tuiste in sy laaste jare. ’n Intieme Salatul Ghaib (janaazah of begrafnisgebed in absentia) is vir hom gehou by die Masjidlul Quds in Kaapstad.
Ibrahim het agt dekades van sy roemryke musiekloopbaan deurgebring om sy geboortestad Kaapstad te verteenwoordig en dit is net gepas dat die gemeenskap op hierdie manier erkenning gee aan sy jare van politieke ballingskap, stryd, opoffering en besielende musiek. Ons neem afskeid van hierdie reus in klank met ’n enorme nalatenskap.
Hamba kahle. Salaam.
Meer inligting en ’n stroomskakel na die gedenkdiens sal ook beskikbaar wees op Abdullah Ibrahim se webtuiste: https://abdullahibrahim.co.za/
Die woordvoerders vir die Abdullah Ibrahim-gedenkkonsert is Marlene le Roux (marlenel@artscape.co.za) en Basil Appollis (basilappollis@gmail.com).
Vir navrae en mediaregistrasie, kontak gerus vir Toberin Meyer by toberinm@artscape.co.za.
(Fotograaf: Peter Rauch)
