SBA bevorder lees met ‘n digitale leeshoekie

As deel van ‘n proses om tegnologie aan te wend vir groter rykwydte en blootstelling aan bemagtigingsgeleenthede, rig die SBA saam met Artscape se vygtigjarige bestaansjaarvieringe ‘n digitale SBA-leeshoekie by die teaterkompleks in wat ‘n permanente plek daar sal beklee.

Drie multitalige kinderpublikasies van die SBA, Fatima, Robbie die Rowwe Rot en Die Kokerboom sal in hierdie leeshoekie beskikbaar wees vir besoekers. Gemelde publikasies word in elektroniese formaat op tablette gelaai en interaktiewe lees- en leermoontlikhede gee leerders toegang tot kreatiewe leergeleenthede en selfontdekking. Fatima en Die Kokerboom is ook inkleurboeke wat op die tablet ingekleur kan word.

Soos alle SBA-projekte, het ook hierdie inisiatief ‘n ingeboude gestremde fokus deurdat al die publikasies op ‘n braille touch plus tablet by die leeshoekie beskikbaar is. Siggestremdes kan dus hierdie apparaat gebruik om al die funksies van die digitale leeshoekie te benut. Verklankte weergawes van al die stories kan geniet word deur die gebruik van weggooibare oorfone om gesondheidsrisiko’s te verminder.

Die bekendstelling van die digitale leeshoekie val saam met die viering van Jeugdag en maak ook lees nou digitaal ‘n genotvolle ervaring.